Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive




SUID-AFRIKAANSE RADIOLIGA NUUS SONDAG 8 NOVEMBER 2015



Goeiemôre, en welkom by die weeklikse nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, gelees deur ________________________ (jou naam, roepsein en QTH)



Die Suid-Afrikaanse Radioliga saai elke Sondag om 08:15 Sentraal Afrika Tyd in Afrikaans en om 08:30 Sentraal Afrika Tyd in Engels landswyd 'n nuusbulletin uit op HF sowel as op verskeie BHF- en UHF-herhalers. Vir Echolink-luisteraars is daar 'n herleiding deur ZS6JPL. 'n Potgooi is ook beskikbaar op die Liga se webblad.



Hierdie oudiobulletin kan van die Liga se webblad by www.sarl.org.za afgelaai word. 'n Teksweergawe van hierdie en vorige bulletins kan ook daar verkry word en jy kan ook inteken om nuwe bulletins per e-pos te ontvang.

In die nuus vandag.

WAT KAN JY DOEN OM JOU BHF RESULTATE TE VERBETER?

ZS4TX NADER DXCC VOLPUNTE OP 7 MHz

OKOSA GEE UITSPRAAK OOR DIE ZU LISENSIES VIR AMATEURS OUER AS 25 JAAR

Bly ingeskakel vir meer inligting oor hierdie en ander interessante nuus items.


** Baie amateurs wat BHF bedrywighede beoefen voel somtyds om die handdoek in te gooi as hy of sy nie die stasies kan werk wat ander amateurs bereik nie. Daar is egter geen rede om moedeloos te word nie.Jy kan stadig maar seker jou antenna en radio toerusting verbeter totdat jy die regte resultate kry.

(1) Jy gaan nie baie ver kom met jou vertikale antenna nie. Behou jou vertikale antenna vir die herhalers en BHF mobiele geleenthede. Vir 'n begin kan jy 'n 5 element rigstraler antenna bou vir 144 MHz of 'n 3 element rigstraler vir 50 MHz, en die resultate sal jou baie vinnig aanspoor om groter antennas te bou wat jou meer wins sal gee.

(2) As jy 'n ouer BHF ontvanger het kan jy 'n lae geraas versterker gebruik om geraas uit swak seine te filtreer.

(3) As jy lae krag uitsette het bv 25 Watts dan sal 'n RF krag versterker van 100 Watts of selfs sterker meer as genoeg wees om 'n verskil te maak. As jy nie enige van die versterker moontlikhede kan gebruik nie moet jy dit oorweeg om gebruik te maak van 'n antenna met groter wins, meer yagi antennas.

(4) Vervang you RG213 koaksiale kabel met lae verlies LM-400, LM-600, Eupen ECA-50 of Heliax LDF4-50A om jou uitsaai en ontvangs verliese te beperk. Gebruik ook N-Tipe koppelings.





** 2015 is die 70ste herdenking van die Verenigde Volke. Amateurradio het VV-Dag met die spesiale roepsein 4U70UN van die VV-Hoofkwartier in New York gevier. Die perseel tel as 'n afsonderlike land vir DXCC-doeleindes.



Van 1978 tot die einde van die eeu was 4U1UN dikwels op die lug. Sedert omtrent 2008 het die land egter in die 50 mees gesogte lande beland. 4U70UN was vir twee agt-uur-sessies op die laaste Saterdag en Sondag van Oktober aktief. Agt operateurs het ses radios en agt draagbare lugdrade in die VV-Tuin gebruik, en duisende kontakte in die groot opeenhopings gemaak.



Bernie van der Walt ZS4TX het net drie lande, insluitend hierdie een, op 7 MHz kortgekom. Hy was angstig oor die feit dat hulle die perseel elke dag teen sonop moes verlaat, wat nie veel gemeenskaplike donkerte tussen hulle en ons gelaat het nie. Heel aan die einde van hulle Sondag-sessie het Bernie 'n afwyking in hulle luisterpatroon op 7 MHz Morse Kode opgelet, en dit reggekry om die operateur se aandag deur die opeenhoping te trek. Dit lyk of hy die laaste stasie was wat hulle op die band gewerk het.



Nadat Bernie die DXCC onderskrywings-proses op die Wêreldlogboek voltooi het, kom hy nou met 345 krediete amptelik net twee lande op hierdie band kort. Sy telling is loshande die hoogste enkelband telling vanuit Suid-Afrika, 'n merkwaardige prestasie op 'n band wat nie algemeen as 'n goeie DX-band beskou word nie.



** Met die publikasie van die jongste radio regulasies vroeër die jaar is die veel besproke ouderdom beperking vir die houers van ‘n ZU lisensies geïmplimenteer. Persone onder die ouderdom van 20 jaar kan die klas B eksamen skryf en indien die kandidaat die eksamen slag kan die ZU lisensie dan aan die persoon uit gereik word en kan die ZU lisensie in gebruik bly totdat die persoon 25 jaar oud word. Sou die persoon dan nog as ‘n amateur wil opereer, moet die persoon dan inskryf vir die klas A eksamen om dan te kwalifiseer vir die klas A ZS of ZR lisensie.



Gedurende die besluitnemings fase van die nuwe regulasie was die SARL genader om IKOSA te versoek om die regulasie te hersien, wat die SARL op twee afsonderlike geleenthede wel gedoen het tydens IKOSA se versoek om kommentaar oor die regulasie te lewer. IKOSA is van mening dat die uitreiking van ‘n klas B lisensie ten doel het om ‘n geleentheid te skep vir jong mense om tot die wêreld van amateur radio toe te tree met die riglyne soos in die nuwe regulasie neer gelê.



SARL het O.K.O.S.A versoek om ‘n redelike periode te gee vir ZU lisensie houers om die oorskakeling te doen. O.K.O.S.A het aan hierdie versoek hulle instemming gegee. Die owerheid het aangekondig dat alle persone ouer as 25 nie meer hulle lisensies na 1 April 2017 kan hernu nie. In ‘n brief gerig aan die geaffekteerde lisensie houers, wat tans uit gestuur word, stel O.K.O.S.A voor dat die geaffekteerde persone so spoedig moontlik inskryf vir die klas A lisensie kursusse om sodoende gereed te wees vir die RAE wat in Mei 2016 geskryf word.



U luister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga.



** Die 85e Algemene Jaarvergadering van die Pretoria Amateurradio-klub het op Saterdag 31 Oktober 2015 plaasgevind. Die volgende persone is tot die komitee verkies:



Pierre Holtzhausen ZS6PJH

Whitey Joubert ZS6JJJ

Andre Coetzee ZS6CGA

Andre Van Tonder ZS6BRC

Jean de Villiers ZS6ARA

Graham Reid ZS6GJR

Louis de Wet ZS6SK

Johan de Bruyn ZS6JHB

Etienne Naude ZS6EFN

Craig Symington ZS6RH

Gawie Marias ZS6GJM



Baie geluk aan die nuwe komitee met hul verkiesing en sterkte vir die jaar wat voorlê. 'n Hartlike dank aan die uitgaande komiteelede wat bietjie gaan rus. Dankie vir jul waardevolle bydrae in die jaar wat verby is.

Die klubvoorsitter word op die eerste komiteevergadering van die nuwe klub verkies.



**** Aansoeke om lidmaatskap van die SARL is van die volgende persone ontvang:



ZR6PAN : Johan M Pansegrouw

ZS6NVZ : Petrus Nicholas Johannes van Zyl



Die volgende klubs het 'n aansoek gerig om geaffilieer te word.

ZS5HAM Highway Amateur Radio Klub



Enige besware teen die aanvaarding van lidmaatskap-aansoeke moet die Sekretaris bereik voor of op die Dinsdag na hierdie bulletin.



Lidmaatskap van die SARL is tans 1586 plus 41 geaffilieerde klubs.



**** Voortplanting verslag, Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag tot matig gaan wees. Aktiewe Sonvlek 2443 het 'n komplekse magnetiese samestelling en kan die bron van M-klas fakkels wees.

Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan 'n verwagte effektiewe sonvlektelling van ongeveer 62 vir die week gebruik.

Amateurs kan veral laatmiddag en gedurende die aande goeie openinge op die 20 tot 10 m DX bande verwag.

Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.



**** Die maandelikse SARL Jeug Net sal vanmiddag weer op die lug wees vanaf 17:00 op 7707 kHz. Skakel in saam met SARL Jeug Koordineerder Koos Fick, ZR6KF en die ander jong mense op die lug. Let asb. op na die nuwe begin tyd om 17:00 SA tyd.



**** En nou vir die dagboek van gebeure



7 November - die RaDAR Uitdaging

8 November - die PEARS HF kompetisie

8 November – Jeug Net saam met Koos Fick

10 November - sluitingsdatum vir artikels vir die November/Desember Radio ZS

16 November – sluitingsdatum vir veranderings aan kontak besonderhede en ander detail vir die 2016 kompetisie handleiding.



Om hierdie bulletin te beëindig, 'n herhaling van ons belangrikste item in die nuus vanoggend.



**** Baie amateurs wat BHF bedrywighede beoefen voel somtyds om die handdoek in te gooi as hy of sy nie die stasies kan werk wat ander amateuyrs bereik nie. Daar is egter geen rede om moedeloos te word nie.Jy kan stadig maar seker jou antenna en radio toerusting verbeter tot jy die regte resultate kry.



Luister elke Sondagoggend om 10:00 sentraal Afrika tyd na "Amateur Radio Today". Daar is herleiding op 7 082 kHz laer syband, 7 205 en 17 660 kHz AM en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid-Afrika. 'n Potgooi deur Dick, ZS6RO, is ook beskikbaar. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 sentraal Afrika tyd op 3 230 kHz plaas.

Ons ontvang graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle, stuur 'n e-pos aan artoday@sarl.org.za. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

Jy het geluister na 'n nuusuitsending van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur Etienne Naude, ZS6EFN, geredigeer is deur Vivian, ZS6VD, en gelees deur Johan Keulder, ZS6BXL

Dankie dat jy geluister het.



Die Afrikaanse nuus span groet nou en wens jou `n mooi week toe. Totsiens

73



/EX





Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003